5 maniere om jou besigheid duisende rande te spaar

Baie besigheidseienaars betaal hulself so min as moontlik om die uitgawes so laag as moontlik te hou. Daar is egter makliker maniere om geld te spaar. Hier is ‘n paar voorstelle wat jy vandag kan toepas om jou besigheid duisende rande deur die jaar te spaar.

  1. Hou maandelikse uitgawes streng onder oë

Hierdie tyd van die jaar is dit dalk goed om jou maandelikse uitgawes te hersien. Kyk veral deeglik na jou maandelikse betalings op motorversekering. Jou motor se waarde verminder elke maand en die meeste versekeringspremies bly dieselfde vir jare. Bel vandag jou makelaar en vra of hulle jou premie by jou motor se (ware) waarde kan aanpas. As jy nie gelukkig is met die antwoord of diens wat jy ontvang nie, bel ‘n ander maatskappy. Dit is ‘n bietjie moeite om rond te bel en pryse te vergelyk of te beding, maar ‘n klein bietjie moeite kan jou besigheid duisende per jaar spaar.

Kyk ook na jou sekuriteitsuitgawes. Daar is baie maatskappye wat hulle dienste in dieselfde areas aanbied. Doen ‘n bietjie navorsing en sluit iewers anders aan as dit lyk of dit die moeite werd kan wees. ‘n Besparing van slegs R100 per maand spaar jou oor R1000 per jaar.

Terselfdertyd kan jy gerus weer kyk na algemene of daaglikse uitgawes soos drukkers en kopieerders. Vergelyk wat inkdrukkers jou kos teenoor laserdrukkers en vergelyk die koste van ‘n koffiemasjien teenoor goeie kitskoffie. Tegniese ondersteuningsdienste is ‘n reuse uitgawe as jy dit volgens uitroep-pryse bereken, maar deesdae kan jy IT-ondersteuning aanvra vanaf so min as R280 per maand vir weeklikse ondersteuning.

  1. Ruil jou produk of diens vir dit wat jy nodig het

Ruilooreenkomste is altyd welkom as jy nie kontantuitgawes wil aangaan nie, of as jy produk het wat stadig beweeg en elders vir jou van waarde kan wees. Wees egter bedag daarop dat ruilooreenkomste tydrowend kan wees (veral as jy dienste lewer) en maak seker dat jy wel jou waarde uit die ooreenkoms kry. Baie entrepreneurs ruil byvoorbeeld boekhoudienste vir regsadvies met groot sukses.

Dink ook daaroor om produk aan plaaslike bekendes te lewer wat dit (op streng voorwaardes) kan gebruik en hulle ervaring via sosiale netwerke kan deel. Dit kan jou duisende rande aan bemarking en advertensie spaar.

  1. Gebruik die belonings wat jou toekom

Daar is so baie maatskappye wat deesdae belonings vir lojaliteit aanbied. As jy afslagbewyse kry, gebruik dit binne die vervaldatum. Teken ook op vir banke en ander instansies wie se dienste jy reeds gebruik se beloningskaarte. As jy nie ingeteken is nie, kan jy nie enige ekstra’s verwag nie. Sorg dat jy jou motor se diensplan tot aan die einde gebruik. Baie mense stel uit om hul laaste diens te bespreek, en kom te laat agter dat hulle dit nooit weer kan terugkry nie.

  1. Gebruik gratis rekenaar-programmatuur

Deesdae kan jy jouself duisende rande spaar deur gratis programmatuur (of deelware) af te laai in pleks van dit aan te koop. Die meeste goeie deelware kan maklik met bestaande programme geïntegreer word. Dit help as jy tegnies-vaardige personeel het, maar probeer gerus om dit self te doen. Daar is bykans vir alle tipe sagteware ‘n vorm van deelware beskikbaar wat jy moontlik kan nodig kry in die bestuur van jou besigheid. As jy die aflaai en installasie suksesvol uitgevoer het, gaan gerus na YouTube en gaan soek na kwaliteit-opleidingsvideos. Raai wat? Dit is ook gratis!

Moenie gratis proeftydperke en konsultasies wegwys nie. Jy is onder geen verpligting om die produk te koop nie, maar ten minste kan jy dit goed deurtrap en toets. Daarby het party maatskappye tot ‘n maandlange proeftydperk en baie spesiale aanbiedinge as jy direk daarna sou aansluit.

  1. Optimaliseer jou koopkrag

Die konsep van groepskoop of grootmaat koop was nog altyd ‘n goeie manier om geld te spaar en mense het selfs begin om ‘koopklubs’ te stig om afslag te beding. As jy baie vriende in jou spesifieke industrie het, kan jy dalk ‘n koopklub begin deur hulle bestellings te neem en met groothandelaars te onderhandel vir beter pryse sodat almal daaruit kan voordeel trek.

Die mag van die internet om mense saam te bring in ad hoc koopklubs was die eerste keer gedemonstreer deur die bekendstelling van Groupon in die VSA. Groupon het ongelukkig aan Suid-Afrika onttrek in 2016, maar daar is tans soortgelyke webwerwe (Catch of the Day/Dealzone/OneDayOnly). Gebruik die koopkrag van duisende mense om toegang te kry tot goedkoper tegnologiese produkte, kombuis-toestelle en selfs ‘open box’ sellulêre en elektroniese produkte wat jy dalk vir jou besigheid benodig.

Facebook Comments