Doen hierdie ses dinge om jou besigheid te laat groei

Besigheidseienaars dink dikwels jy het meer kapitaal, groter kliënte en media-blootstelling nodig om jou besigheid te groei. Die waarheid is egter dat klein veranderinge, of ‘n paar nuwe gewoontes, groot groei op die lange duur kan beteken.

Kom uit!

Heel eerste, moet jy netwerk. Jy kan nie jou multi-miljoenrand besigheidsryk groei terwyl jy met jou pantoffels in jou tuiskantoor sit nie. Trek aan en gaan uit. As jy nie kan bekostig om voornemende kliënte of kontakte vir ete uit te neem nie, maak middag-afsprake met koffie. Moet net nie wegkruip in jou eie klein wêreld nie. Jy moet uit jou gemaksone beweeg om netwerke te skep wat jou en jou besigheid na die volgende vlak kan neem. Al die groot geleenthede is daar buite.

Vat die padSolo-Travel-Free-State-Travel-Road-Trips-Tips

Dit is blykbaar bewys, sê besigheidsadviseur Tai Lopez, dat ‘n maandelikse uitstappie van tussen 200 en 300 kilometer van jou huis af jou kreatiwiteit mateloos kan verbeter. Besoek verskillende plekke, bly in goedkoop gastehuise en neem ‘n stapel boeke saam, asook notaboeke om al jou blink nuwe idees neer te pen. “Selfs as jy net vir twee dae kan wegkom a.g.v. ander verpligtinge, is dit lank genoeg om ‘n impak op die rigting waarin jou lewe en jou besigheid beweeg te maak,” sê Lopez.

Stel die regte span saam

“Almal dink dat besigheidsgroei met tegnologie verband hou. Maar groei kom ook in die vorm van mense; en dit is ‘n vorm van groei wat lank voor die internet homself bewys het. Die meeste van ons onderskat die impak wat mense op besigheidsgroei kan hê,” sê stiger en HUB van VaynerMedia, Gary Vaynerchuck.

Kry die regte mense vir jou span en moenie ophou soek totdat jy hulle opgespoor het nie. Moet ook nie tevrede wees met minder as die beste nie. Die beste pas is nie noodwendig die duurste nie.

Antwoord elke oproep

Dit klink na harde werk, en onnodige admin en jy wonder seker of dit die moeite werd sal wees. Baie suksesvolle entrepreneurs het al vertel dat hulle grootste deurbraak gekom het op die rug van ‘n onverwagse oproep, of omdat hulle na aanleiding van ‘n boodskap teruggeskakel het. Maak ‘n gewoonte daarvan om elke oproep en boodskap na te gaan. Jy weet nooit watter geleenthede aan die ander kant van die lyn staan nie.

Weet wat jy wil hê en vra daarvoor

Dit is tog wat ek doen, dink jy waarskynlik. Maar ons vra selde vir dit wat ons wil hê. Die bekende reeksentrepreneur Chris Plough vertel dat alles vir hom verander het die dag wat hy bewus geword het hiervan. “Ons vra nie vir dit wat ons wil hê nie; ons vra vir dit wat ons dink moontlik sal wees. Ons vra vir dit wat ons glo ons verdien. Of ons vra vir dit wat ons dink die mark kan bekostig. Ons is bang as ons vra vir dit wat ons wil hê en dit nie kry nie, ons minderwaardig gaan voorkom, so ons berus gewoonlik by minder.” Vra is vry!

Hou aan met leersummer_reading

Gebruik elke oop uur vir selfonderrig en verryking. Dit is baie belangrik om ingelig te bly oor die ontwikkelinge in jou industrie. Wees eerlik met jouself en besluit watter vaardighede jy tekort skiet wat jou moontlik kan help om jou besigheid na hoër hoogtes te bestuur. Vind vandag uit vir watter kort kursusse of aanlyskursusse jy kan registreer wat jou vaardighede kan opskerp. Net een uur per werksdag word uiteindelik 20 ure per maand en meer as 200 ure per jaar.

Facebook Comments