Gesondheid! Vier Wêreld Nierdag met ‘n glas water

Ons nooi almal om op 12 Maart 2015 ‘n glas water te drink en ‘n glas vir iemand anders aan te bied – om ons niere te vier.

Dit is ‘n simboliese gebaar om ons te herinner dat niere lewensbelangrike organe is wat ons moet oppas; dit is ook ‘n manier om mense meer bewus te maak van die regte lewenstyl keuses. Die glas water kan gesprekke uitlok en bewusmaking kweek oor die gevare, risiko en geweldige uitdagings van niersiektes asook hoe om dit te voorkom en betyds te behandel.

Hierdie jaar se tema op die dag is “Kidney Health for All” wat ‘n betekenisvolle tema is wat help om die klem te plaas op ‘n paar belangrike punte in die uitdagings wat Kroniese Niersiektes in afgesonderde gemeenskappe bied: swak water-higiëne, gebrekkige hidrasie en ongesonde keuses as dit kom by drinkgoed.

‘n Groot deel van die wêreldpopulasie het nie toegang tot skoon water nie en verskeie siektes – veral dié wat niere affekteer – is water-oordraagbaar. Dit is ook ‘n groot rede waarom Wêreld Nierdag ‘n beroep doen op toegang tot skoon water vir almal.

“Studies het bewys dat mense wat elke dag gaskoeldrank drink ‘n hoër risiko toon om Kroniese Niersiektes te ontwikkel.”

Dit is omdat gaskoeldrank die vlak van proteïene in die uriene laat styg wat beskou word as ‘n vroeë merker van nierskade. Op Wêreld Nierdag is dit belangrik om mense te leer om gesonde keuses te maak en dus eerder water as gaskoeldrank te drink.

Sakevrou het gesels met Tristie van der Spuy, dieetkundige by Life Rosepark Hospitaal. Volgens haar, is die algemene beraming wat die rondte doen van 1 liter water per 30kg liggaamsgewig net werkbaar as jy met mense van gemiddelde massa werk. “Ek wil graag weet hoe gaan ‘n persoon van 210kg sewe liter water per dag drink?” vra sy. Te veel water is gevaarlik, bevestig sy. “Dit kan lei tot verlaagde voedsel inname, tot vitamien- en mineraaltekorte, tot elektroliet versteurings en, wanneer jou liggaam nie meer werkende niere het, tot vog wat ophoop in die liggaam omdat jou niere nie van dit kan ontslae raak nie.”

Volgens Tristie is die ‘ouvrouraad’ van ‘n glas warm water in die oggend met suurlemoensap of appelasyn nog die beste om van gifstowwe ontslae te raak.
“Water maak skoon en reinig die liggaam van gifstowwe wat ophoop,” sê sy. “Enige ander vloeistof dehidreer die liggaam en plaas ekstra stremming op jou niere.”

Behalwe vir genoeg water, speel dieet ‘n kardinale belang in die gesondheid van jou niere. “As jy enige nierkwale het is dit belangrik om jou dieet met ‘n geregistreerde dieetkundige te bespreek.”

Vir meer inligting besoek die webwerf by Worldkidneyday.org.

Facebook Comments