Internasionale Traumadag

Op Saterdag, 17 Oktober 2015 vier ons Wêreld Trauma Dag.
 
Wat is trauma?
Trauma is ‘n ernstige besering of skok vir jou liggaam wat gewoonlik deur n eksterne krag veroorsaak word. Soos byvoorbeeld ernstige beenfrakture, oop wonde of hoof beserings as gevolg van motorvoertuig-ongelukke, sport, geweld, werksbeserings, ontploffings ens. Dit kan ook ‘n  psigologiese skok wees wat groot skade aan die  psige van ‘n persoon kan doen agv. van n skielike vinnige traumatiese  insident of gebeurtenis in jou lewe.

Hoe funksioneer ‘n nood-en trauma eenheid?
Die Life Rosepark Hospitaal in Bloemfontein beskik oor ‘n 24-uur, goed toegeruste trauma-en noodeenheid wat enige mediese-, kardio- of respatoriese noodgeval of trauma situasie kan hanteer.

Daagliks is daar ‘n dokter en-/of trauma dokter, vier susters, ‘n triage verpleegkundige en n triage-koördineerder en al die ondersteunende personeel soos die sekretaresse, portiere, toelatingsbeampte, skoonmakers aan diens in die eenheid. Die triage koördineerdeer is veral belangrik in die eenheid aangesien die persoon die skakel is tussen die ontvangsarea, die pasiënt en die personeel in die ondersoek area. Die triage koördineerder kommunikeer met ‘n pasiënt oor hoe lank hulle moontlik kan wag; afhangende van die aard van hul besering of mediese kondisie. Indien n persoon in die wagarea se toestand versleg, sorg die triage koördineerder en verpleegkundige dat die persoon so gou as moontlik mediese aandag kry.

Saam met die noodeenheidspan is daar ook ‘n mediese span aan diens wat bestaan uit spesialiste van elke dissipline wat daagliks oproep is indien die noodeenheid dokters die pasiënte moet verwys. Daar is ook trauma chirurge en ‘n noue samewerking met die radiologie personeel en patalogiese labaratoriums. Life Rosepark Hospitaal werk ook nou saam met Aerocare om pasiënte wat intensiewe sorg benodig in te vlieg van ver afgeleë areas.

Die hospitaal beskik ook oor ‘n bekwame en ervare span ALS paramedici. Daar is geen koste aan verbonde aan die paramediese diens van Life Rosepark se paramedici nie. Die individu word op die toneel behandel en gestabiliseer en indien die pasiënt of persoon wel na die hospitaal gebring moet word sal dit deur ‘n privaat ambulansdiens wees wat deur ons paramedici gereël is. Hierdie ambulans nooddiens (EMS) sal vir die betrokke pasiënt ‘n rekening stuur. Die hospitaal het verbintenisse met verskeie privaat ambulansdienste soos ER24, Netcare 911, Medix, Aerocare ens.

Life Rosepark Hospitaal se paramedici reageer op alle oproepe. Indien hulle reeds op ‘n ander noodtoneel is, sal hulle met een van die EMS dienste reël om na jou huis te gaan om die situasie te hanteer. Sou ‘n ALS paramedikus uitgeroep word na ‘n pasiënt of ‘n noodtoneel is daar ‘n dokter of suster van die noodeenheid beskikbaar om die paramedikus telefonies te assisteer op die toneel sou dit nodig wees.

Wat is jou verantwoordelikheid as pasiënt?
In enige mediese -of trauma noodgeval, tel sekondes. Daarom is dit belangrik dat sodra jy die Life Rosepark Hospitaal 0800 22 22 22 noodnommer geskakel het; die situasie-en kondisie van die pasiënt duidelik aan die operateur deurgegee het; seker gemaak het die pasiënt is so gemaklik as moontlik; die pasiënt gerus gestel het dat hulp oppad is – jy die pasiënt se ID dokumente en mediese-fondskaart (as pasiënt op ‘n mediese plan is) kry en dit by jou hou, aangesien dit uiters belangrik is dat dié dokumente beskikbaar is sodra die pasiënt by die nood-en trauma eenheid kom.

Wetgewing bepaal dat enige pasiënt, privaat of met mediese fondsdekking moét altyd hul ID dokumente en mediese fondskaart saam met hulle bring wanneer hulle na ‘n mediese fasiliteit of noodeenheid gaan. Nuwe wetgewing reguleer ook waar ‘n kind onder 18 die pasiënt is en nie ‘n ID-dokument het nie, moet die die geboorte-sertifikaat van die kind getoon word.

Dit is belangrik dat pasiënte hulle vereenselwig met die riglyne wat hul mediese fonds voorskryf. Dit vergemaklik die toelatingsproses en kan ook ‘n invloed hê op betaling of selfs watter hospitaal besoek mag word vir behandeling.

‘n Pasiënt wat nie ‘n mediese fonds het nie, en na die noodeenheid kom met ‘n mediese kondisie wat deur ‘n algemene praktisyn hanteer kon word, en volgens die South African Triage Group (SATS) se triage riglyn as ‘n minder ernstig geval gekodeer is, word gevra dat ‘n deposito te betaal by ontvangs.

Meer as net ‘n hospitaal?
Life Rosepark Hospitaal gee die versekering dat enige lid van die publiek wat hulself in ‘n ernstige mediese-, kardiologiese-, of trauma situasie bevind deur die hospitaal se nood-en trauma eenheid behandel sal word. Indien die pasiënt se situasie lewensbedreigend is of geklas word as P1 of P2 geval, sal die pasiënt onmiddelikke nood behandeling ontvang, ongeag of die pasiënt op ‘n mediese fonds is of nie. Sodra die pasiënt gestabiliseer is sal hy/sy oorgeplaas word na ‘n ander hospitaal sonder om die pasiënt te ontrief of sy gesondheid te beïnvloed.

Die hospitaal beskik oor n beradingsarea waar pasiente en familie gemaklik kan wag. Daar is ook gekwalifiseerde trauma beraders beskikbaar wat in enige situasie, die pasiënt en familie kan sien en begelei. Dié aanvanklike berading is vir die hospitaal se onkoste.

Volgens Hannika Struwig, Bemarkings-en Kommunikasiebestuurder by die Life Rosepark Hospitaal, ‘werk ons personeel en dokters elke dag met mense se lewens. Dit maak ons mense passievol vir hulle beroep. Hulle is ongelooflik trots op hul werk en doen dit met soveel empatie, warmte en kliniese uitnemendheid. Hulle besef hoe kosbaar sekondes in ‘n lewe is en dat dit ‘n lewe kan red.’ Sy stel voor dat jy Life Rosepark Hospitaal se 24-uur noodnommer – 0800 22 22 22 op jou selfoon stoor en dit ook op jou yskasdeur of naby jou landlyn plaas sodat dit vinnig in jou bereik is as jy dit nodig kry.

Facebook Comments