Jeannette Geldenhuys: Altyd vorentoe

Jeannette Geldenhuys is al sedert 2009 ʼn bekende stem op Radio Rosestad in Bloemfontein en al 30 jaar lank in die uitsaaiwese. Tog beskryf sy haarself as ʼn “amateur” met dekades se ondervinding. “ʼn Amateur probeer altyd om bo uit te kom. En dit is hoe ek my werk aanpak,” verduidelik sy. “Niemand het ooit al die kennis in pag nie en jy kan altyd iets by iemand anders leer.”

Jeannette het die grootste deel van haar kinderjare in Brandfort deurgebring voordat sy ná skool ʼn graad in drama aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal het. Sy vertel sy was nog altyd deur die uitsaaibedryf gefassineer. “Die misterie van ʼn gesiglose stem het my as klein dogtertjie betower. Ek wou graag die Siembamba-tannie word of die aankondigings op ʼn lughawe doen,” sê sy.

Jeannette se droom is bewaarheid toe sy in 1986 by die destydse Radio Oranje as vryskut-omroeper begin werk het. “My eerste program was Oranje Rendezvous, ʼn versoekprogram vir die manne op die grens. Alhoewel ek sedertdien ondervinding in al die fasette van radiowese opgedoen het, was dit as omroeper en verkoopsagent waarin ek werklik uitgeblink het.”

Vandag is Jeannette die aanbieder op Radio Rosestad en werk sy ook as ʼn verkoopsagent vir die stasie.

Onvergeetlike hoogtepunte

Op ʼn vraag watter hoogtepunte in haar blink loopbaan vir haar uitstaan, antwoord sy dit is die persoonlike prestasies wat veral by haar vassteek. “Ek deel gereeld die verhoog met my dogters. Imke het einde verlede jaar die Gospel Skouspel saam met my gedoen en Nelien het hierdie jaar saam met my in Pilatus die Passiespele gespeel,” sê sy.

“Ek was die agent vir die Westline-lugskou wat uiters suksesvol was en deur 7 000 mense bygewoon is. Ek het vanjaar die toekenning vir Bloemfontein Courant se Best of Bloem Plaaslike Radiopersoonlikheid ontvang en een van my kliënte, Greenside Kwekery, is aangewys as die beste kwekery van die jaar.”

Verskeie van Jeannette se kliënte het as wenners in die Best of Bloem-toekennings weggestap en die Ek lief die Vrystaat-musiekkonsert, ook een van haar kliënte, het vanjaar uiters suksesvol afgeloop met meer as 15 000 mense wat dit bygewoon het. Sy noem ook Vroue wat Voorloop, ʼn vroueklub wat sy gestig het, se uitreikgeleentheid vir minderbevoorregte dames by Tuscan Rose as ʼn onvergeetlike gebeurtenis.

“Ek glo die geheim agter hierdie suksesse is bloot om minder te belowe en dan meer te gee. Ek behandel elke kliënt se besigheid asof dit my eie is. Ek probeer help om mense se drome waar te maak,” sê sy.

“Jare terug toe ek in eiendomme was, het ek ‘n seminaar bygewoon waar iemand gesê het dat ‘n mens nie ‘n huis aan iemand verkoop nie, jy verkoop ‘n plek waar ‘n man sy vrou kan bemin. Dit het by my vasgesteek. Dit gaan nie vir my oor die geldelike voordeel of kommissie nie. Dit gaan oor ‘n vertrouensverhouding wat opgebou word. My kliënte se pad na sukses is vir my ‘n riem onder die hart en ek hou daarvan om die pad saam met hulle te stap.”

Volgens Jeannette probeer sy om steeds soveel as moontlik te leer en sorg sy dat sy deurentyd in haar werk groei. “Ek hou daarvan om my te omring met suksesvolle mense, mense met ʼn passie vir hul besigheid en geloof in hul produk. Ek is nederig dankbaar vir die bietjie sukses wat ek al bereik het en aanvaar niks daarvan as vanselfsprekend nie.”

Belangrike lesse

Geen geld kan ‘n goeie naam, geloofwaardigheid en vertroue koop nie.

Jeannette is verfrissend eerlik oor die uitdagings wat sy al moes oorkom en die moeilike lesse wat sy hieruit moes leer. “As aangenome kind moet ek voortdurend die stigma van verwerping beveg. Dit het van my ‘n baie kompeterende mens gemaak. Die afgelope tyd het ek uiteindelik tot die besef gekom dat wen nie die belangrikste is nie, maar wel die reis om daar uit te kom.”

Sy vertel dat haar aangenome ouers reeds vroeg in haar lewe oorlede is en dat dit haar gedwing het om vinnig op haar eie voete te staan. Omdat sy nie ʼn groot familiekring het nie, moes sy verskeie rolle vir haar dogters vertolk, wat ook ʼn uitdaging was.

“Aan die einde van hierdie jaar, gaan ek beslis ‘2016’ op my CV skryf,” skerts Jeannette. “Ek het hierdie jaar bitter groot uitdagings gehad om te oorkom, maar ek het steeds hoogtepunte bereik. Ek en my man, Hendri, se nuwe besigheid, Stare Designs, is geregistreer en ek glo oor vyf jaar sal hierdie nuwe handgemaakte skoenreeks op almal se lippe wees. Dit is vir my ʼn voorreg om my man in sy kreatiwiteit te ondersteun.”

Sy vertel dat sy ook betrokke geraak het by ʼn wildbewaringsinisiatief vir jagluiperds, Running Wild Conservation. “Ek het besef dat ons dringend iets sal moet doen aan die kwynende getalle van jagluiperds en deur hierdie organisasie kan ons die pas aangee om hierdie pragdier van totale uitwissing te red. Ons is tans besig met die beplanning van ‘n veldtog om
fondse hiervoor in te samel.”

Agter die skerms

Volgens Jeannette is ʼn gelukkige huislike omgewing een van die grootste bydraende faktore vir sukses by die werk. “Ons is ‘n baie hegte gesin wat gereeld kwaliteittyd saam bestee. My gesin ondersteun my in alles wat ek aanpak. Hulle trek ook baie maklik my handrem op as ek dit nie self regkry om rem te trap nie.”

Sy erken sy is ʼn werkesel en dat een van haar voornemens dus is om meer tyd met haar geliefdes deur te bring. “Wanneer my wêreld inmekaar val, wat soms gebeur, hou hulle my regop. My familie is vir my uiters kosbaar. ‘n Keerpunt in my lewe was toe ek besef het daar is altyd iemand wat beter in jou werk is as jy. ‘n Mens is dus vervangbaar by die werk, maar nie by jou huis nie.”

Jeannette vertel dat haar persoonlike styl ook haar leefstyl reflekteer: ongekompliseerd, tydloos en nie ʼn slaaf van modeneigings nie. “Ek het ‘n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap wat ek dien om altyd versorg te wees. Ek glo nog altyd: ‘Opportunity only knocks once’. Jy weet dus nooit wie jy waar gaan raakloop nie.”

Een van die belangrikste lesse wat Jeannette al oor die jare gelees het, is om altyd onberispelik op te tree en deur haar voorbeeld te lei. “Geen geld kan ‘n goeie naam, geloofwaardigheid en vertroue koop nie. Ek het geleer om negatiewe mense te vermy en middelmatigheid is nie meer in my woordeskat nie. Bo alles, jy moet altyd rede hê om uit jou maag uit te lag. Ek en my dogters het lag vervolmaak!”

Facebook Comments