Mikaya se Mariette – Geen keer aan groei

Mariette van Niekerk, eienaar, prinsipaal en besturende direkteur van Mikaya Real Estate doen niks half nie. Dit is waarskynlik waarom haar onderneming bly groei en uitstaan in die mark.

Mariette van Niekerk het in ‘n huis grootgeword waar kinders geleer is om in alle opsigte op hul eie bene te staan, vertel sy. “Geen huiswerk, take of toesprake is vir ons gedoen nie en indien ons in die moeilikheid was, moes ons dit self hanteer.” Sy gee alle eer aan haar pa wie sy beskou as haar persoonlike mentor. “Alhoewel hy oorlede is toe ek 29 jaar oud was, het hy die grootste invloed op my lewe gehad. Hy het my geleer dat, al woed daar ‘n storm om my, ek nooit die storm binne my moet toelaat nie; om nooit op te gee nie en dat jy moet misluk om suksesvol te wees,” vertel Mariette. Gevolglik kan sy teleurstelling baie goed hanteer, ‘n baie nuttige vaardigheid vir besigheid.

“My pa het my ook geleer dat jy in beheer is van jou emosies, dat jy jou eie wedloop bepaal en dat jy nie moet toelaat dat mense bepaal wat jy van jouself dink nie. Hy het gesê dat jou geluk nie bepaal word deur jou omstandighede nie, maar deur die keuses wat jy maak.”

Hierdie ambisieuse ma van vier het regte studeer en is op die ouderdom van 28 as advokaat in die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat. Sy het egter na die geboorte van haar tweede kind bedank uit haar regsberoep en die streeksbestuurder van Smile Opvoedkundige Speelgoed geword. Net na die geboorte van haar vierdie kind het Mariette vir die eerste keer haar hand aan eiendomme probeer. “Op daardie stadium was dit die ideale werk, want ek kon my afsprake rondom my gesin se behoeftes, aktiwiteite en sport reël.”

Mariette is aan die diep kant ingegooi deur ‘n “baie vrolike prinsipaal” by New World Properties en het dadelik besef dat sy dié tipe werk geweldig baie geniet. Nadat die prinsipaal die bedryf vaarwel toegeroep het, het sy in die daaropvolgende jare by nog drie groot eiendomsfirmas gewerk.

Mariette het elke moontlike geleentheid gebruik om meer oor die bedryf te leer. “Ek het elke kursus bygewoon, baie opgelees en gevra as ek nie weet of verstaan nie.” In hierdie tyd was daar twee prinsipale en ‘n bestuurder by wie sy baie geleer het, nie net oor besigheid nie, maar ook oor haar persoonlike groei as mens en Eiendomskonsultant. In hierdie tyd het baie vriende haar aangemoedig om haar eie besigheid te begin, maar sy het geglo dat sy sal weet wanneer die tyd reg is.

Aan die einde van 2016 na 11 jaar in die bedryf het Mariette uiteindelik haar eie agentskap, Mikaya Rest Estate, begin.

Enige sakevrou moet weet, “the sky is the limit”; jy kan KIES om gelukkig en suksesvol te wees. Moet jouself nooit beperk nie, want jy kan en mag baie meer bereik as jy jouself toelaat om dit na te streef.

Mariette van Niekerk gesels met Louwna Erasmus, redakteur van Sakevrou:

Wat maak Mikaya anders of laat die maatskappy uitstaan?

Ek het van die begin af besluit om net die beste van dit wat ek by my vorige firmas geleer het, uit te haal en “om” dit te bou. Die voordeel dat ek nie deel van ‘n franchise-groep is nie, is dat ek nie vaste riglyne het waarvolgens ek moet werk nie; so ek doen dinge anders. Vir die besigheid se naam, moet ek erkenning aan my man gee. Ons het besluit om nie my naam te gebruik nie (want dit is boring), maar iets waarmee elkeen hul kan vereenselwig, enige ras, enige geslag, ryk en arm. In die oos-Vrystaat waar ek groot geword het, het die Sotho’s van hul huis as “kaya” gepraat. Ons het gereken elke persoon het ‘n kaya waarheen hy elke aand gaan om te slaap, sy tuiste. die ”Mi” vooraan beteken myne en vandaar die naam. So, of jy arm of ryk is, ons elkeen het ‘n kaya.

Verder gebruik ek ander maniere om my besigheid te bemark. My heel belangrikste vorm van bemarking is om te netwerk met mense. Dit werk uitstekend en ek is baie dankbaar vir elke vriend of vriendin in my invloedsfeer wat my help bou aan my besigheid.

Hoe gebruik jy inherente vroulike vaardighede in jou beroep?

Ek dink, en ek hoop nie ek word afgeslag nie, dat vrouens meer deeglik is wanneer dit by verhoudings bou, kom. Ek gebruik dit en natuurlik my sesde sintuig, waarmee ons vrouens geseën word, in my besigheid. Theodore Roosevelt het gesê: “People don’t care how much you know, until they know how much you care.” My vriende en kliënte kan sien dat ek nie net ‘n transaksie wil doen nie, maar dat ek werklik omgee.

Vind jy genot in jou werk? Waarom?

Ek is mal oor my werk. Ek hou baie van mense en stel werklik belang in wat hul doen, waar hul werk, wat hul gelukkig maak en waarvan hulle hou. Wanneer ek bogenoemde van die koper of verkoper uitgevind het, kan ek met hulle begin werk. Ek wou nog altyd met mense werk en my besigheid word gedryf deur verhoudings met mense.

Daar moet ook daagliks uitdagings in jou industrie wees.  Wat is dit?  En hoe hanteer jy dit?

Ek is verseker in die industrie met die meeste uitdagings. Ek het egter as kind reeds geleer dat daar vir elke probleem ‘n oplossing is en as Plan A nie werk nie, is daar nog 25 letters in die alfabet.

Om ‘n paar uitdagings te noem, is die Finansiële Instellings seker die belangrikste, want baie min mense het kontant wat rondlê en ek moet dus 100% seker wees dat die koper wat my tyd in beslag neem werklik kwalifiseer. Rommelstatus het definitief die mark beïnvloed; beleggers is versigtig om te belê. Stakings by die munisipaliteit wat veroorsaak dat transaksies nie betyds registreer nie nadat kopers en verkopers reeds alles rondom ‘n spesifieke okkupasie-datum gereël het, is ook ‘n groot uitdaging.

Watter middele gebruik jy om jou tyd te bestuur?

Soos ek vroeër genoem het, is my gesin baie belangrik en kwaliteit-tyd saam met hulle is my eerste prioriteit. Ek dagboek al my afsprake op my iPad en selfoon, wat gekoppel is, en ja dit is moeilik om alles te onthou, so ek het altyd lysies. Ek het ‘n dame wat al my listings op die internet doen en ook die wysigings aanbring en advertensies doen. Ek maak, sedert ek as eiendomskonsultant begin het, gebruik van ‘n au pair wat my kinders na hul aktiwiteite rondry en toesig hou oor huiswerk en skooltake. Ek gaan haal egter my kinders self na skool want ek het agtergekom dit is die tyd wat al die stories, hetsy lekker of sleg, uitkom. My au pair help ook met van my admintake, slaan borde in en versprei bemarkingsmateriaal. En soms misbruik ek haar om ook die inkopies te doen.

Wat doen jy om deur stresvolle dae te kom?

Ek oefen 3-4 dae ‘n week, maak seker dat ek ‘n goeie ontbyt eet en hou my besig met positiewe mense, berigte en artikels. Ek probeer negatiewe mense heeltemal vermy. Ek sorg ook dat ek gereeld saam my vriendinne kuier of met hul gesels.

Is daar suksesse waarop jy reeds trots is en waar sien jy jouself oor vyf jaar?

Ek en my man het reeds met Mikaya Student Living, wat privaat-koshuise is met huisouers en ‘n huiskomitee, begin. Ons het ook reeds ‘n manskoshuis, WELMOED, wat mansstudente van verskeie opvoedkundige naskoolse intansies huisves. Ons huisves ook die gekontrakteerde Cheetah 0/19-spelers en die meeste van die jong manne speel rugby. Ek sou ook graag ‘n Mikaya Commercial begin, maar die tyd sal leer.

 Ek moet sê, ek vat elke dag soos dit kom en ek glo dinge gebeur soos dit moet. Dit beteken nie dat ek nie ambisie het nie. Ek glo net dat die Here my die leiding sal gee op die pad vorentoe.

Dink jy dis belangrik om ‘n gebalanseerde lewe te lei? Wat sou jy verander aan jou lewe om dit ‘n bietjie meer gebalanseerd te kry?

Ja, ‘n gabalanseerde lewe is van uiterste belang om gesond en gelukkig te wees. Ek dink my lewe is baie gebalanseerd. Ek sien ‘n paar van my vriendinne op ‘n weeklikse basis en maak gereeld tyd om by ander vriende en familie uit te kom. Ek en my man is baie by die Harley Owners Group betrokke en gaan so vier keer per jaar op ‘n rally. Aan die einde van die jaar hou ons as gesin vir saam vakansie. Ek sou definitief graag meer wou lees.

Wat lees jy op die oomblik wat jy kan aanbeveel aan ander sakevroue?

Ek lees tans ‘n boek van John C. Maxwell, “The 21 Irrefutable Laws of Leadership”. Ek lees graag motiverings- en opbouende boeke oor leierskap. Ek hou ook van boeke met ‘n Christelike agtergrond, soos die boek “Oortref Jouself” van Joel Osteen. Ek lees graag biografieë (mense en hul reaksies en optredes en persoonlikhede interresseer my). “The Greatest Salesman in the World” van Og Mandino is een van my gunstelinge, aangesien sy boeke my baie aan my pa laat dink.

Facebook Comments