Moenie jou Aandag laat Aflei nie

Dit maak nie saak wie jy is en wat jou werk of posisie behels nie, almal van ons is konstant blootgestel aan vorme van afleiding terwyl ons werk. Partykeer is dit net vir ‘n kort rukkie en ander kere as jy opkyk vra jy: Waar is hierdie dag heen? Almal van ons het presies dieselfde beperkte hoeveelheid ure in ‘n dag waarin ons werk moet doen wat regtig saakmaak. As jy ‘n klein sake-onderneming bedryf, is jou tyd geweldig waardevol en klein afleidings deur die loop van die dag kan ‘n groot impak op jou inkomste veroorsaak, en uiteindelik op jou langtermyn-sukses.

Bo-aan die lys van aandag-afleiers is telefoonoproepe, eposse, vergaderings, kollegas wat baie gesels en daardie swart gat of gravitasiekolk – die Internet.

Hoe vermy ‘n mens al die afleidings deur die loop van ‘n dag sodat jy super-produktief kan wees?

Streng skedules en agendas

Skep ‘n weeklikse standaard-skedule waarby jy streng hou en laat ‘n paar ure oop vir toevallige afsprake ens. Deur ‘n roetine te vestig, skep jy ‘n gewoonte om sekere dinge op ‘n vasgestelde tyd te doen, en dis presies wat jy nodig het om beter te kan fokus.

Indien moontlik, begin elke dag met ‘n vorm van oefening. Dit help vir ‘n goeie gemoed en verbeter definitief jou fokus en jou energievlakke. Introspeksie of meditasie help om die dag vooruit te beplan: Wat kan jy doen om die sukses te behaal vandag en wie is die mense wat jy gaan betrek of nader deur die dag?

Vergaderings sonder agendas is tydrowers. Laat almal weet wat die rede vir die vergadering is, en wanneer dit gaan begin, sowel as wanneer dit gaan eindig. Verwag van almal om voorbereid te kom.

Selfdissipline

Hierdie is ‘n moeilike een. Ons is dikwels ons eie, grootste vyand, veral as dit by take kom waarvoor ons nie lus is nie. Dit help as jy die dinge waarvan jy niks hou nie, vroeg in die dag skeduleer. Kry klaar en beweeg aan na dit wat jy wel geniet en sluit die dag in ‘n goeie bui af.

Deaktiveer die geluide op jou selfoon en rekenaar wat epos of whatsapp aflewer

Deaktiveer die geluide op jou selfoon en rekenaar wat epos of whatsapp aflewer. Terselfdertyd is die meeste oproepe regtig nie belangrik nie, en kan jy later met die stempos opvang.

Stel mense in kennis dat jy net drie maal per dag jou epos en stempos oopmaak sodat hulle voorbereid is daarop. Skeduleer die tye wat jy epos gaan oopmaak en antwoord. En bly weg van sosiale media ten alle koste! Prioritiseer dit wat belangrik is vir elke dag sodat die belangrike take eerste afgehandel kan word – die res kan wag vir later. Op hierdie wyse word die belangrikste take uitgevoer ten spyte van die onderbrekings in jou skedule. Hou altyd ‘n notaboek byderhand sodat jy alles wat belangrik is kan neerskryf en onthou.

Vermy eindelose sosialisering

As jy hou van mense en gesels sal jy vir jouself ‘n beperking moet stel op die hoeveelheid ure wat jy aan nie-produktiewe sosialisering kan spandeer. As die tyd wat jy by die werk spandeer nie bydra tot jou bankbalans nie, is jy op die verkeerde pad.

Moet nooit alleen eet nie. Nooi mense vir middagete met wie jy ‘n pad in besigheid wil stap. Of bring een van jou personeellede saam wat ‘n bietjie motivering nodig het, of met wie jy privaat wil gesels. Gebruik hierdie tyd om goeie verhoudinge te bou. Sodoende is jy produktief terwyl jy die sg. tenk volmaak.

Weereens – vermy die internet. Dit het die vermoë om die meeste eenvoudig in te sluk met die gevolg dat soveel kosbare tyd verlore gaan. Wees slim: teken in, doen wat gedoen moet word en teken uit. Tensy dit ‘n baie belangrike deel van jou dagtaak is, kan jy dit eerder delegeer.

Skep Aansporings

Stel vir jouself ‘n groot persoonlike doelwit, of ‘n belangrike besigheidsdoelwit wat jy graag wil bereik in die volgende 12 maande. Gebruik post-its en skryf vir jouself die volgende boodskap: Is hierdie belangriker as my doelwit? Plaas hierdie papiertjies op strategiese plekke – dié wat jy gereeld besoek om te prokrasteneer.

Probeer om hoogtepunte en prestasies te vier onderweg na sukses. Dit is belangrik om goeie werk te beloon. Dit onderbreek die konstante stres wat ons ondervind en help met ontspanning, herlaaiing en herfokus, asook om terug te staan en te kyk na die haalbaarheid van doelwitte.

Laastens, moet jy aan die einde van elke dag jou volgende dag beplan. Sit alles in plek wat jy die volgende oggend sal nodig kry om jou werk te verrig. Bel of epos mense met wie jy afsprake het om te bevestig en hulle te herinner. As jy alles reg het vir die volgende dag, gaan huistoe. Ontspan en vergeet van die werk. Jy moet balans in jou lewe skep.

Artikel gelewer deur Diederik van Niekerk van ActionCOACH. Het jy geweet? 70% van alle Fortune 500-ondernemings en 100% van alle professionele sportspanne maak gebruik van afrigters. Jy behoort dit sterk te oorweeg!

 

 

Facebook Comments