Oefen by die huis – Deel 1

Deur Elizabeth Tsikkos, persoonlike instrukteur vir die gemiddelde mens

Ek gaan Maandag begin oefen, anders die Maandag daarop. Of net na die langnaweek…

As hierdie selfgesprek plaasvind elke keer as jy ‘n begindatum probeer bepaal vir jou oefenprogram, is jy beslis deel van die vroue wat nie kans sien om nog iets by ‘n alreeds oorval dagprogram te voeg nie. Voor enige oefening kan plaasvind, het jy ook nog ongeveer 30 minute tyd nodig om deur die verkeer by die gimnasium uit te kom. Daar is egter goeie nuus – ek gaan jou wys hoe om by die huis te oefen.

Voor jy begin met enige oefenprogram, moet jou huisdokter die groenlig gee, veral as jy gesondheidsprobleme ervaar.

Wie onthou nog die oefenprogramme op DVDs?

Ons het almal op die een of ander stadium ‘n oefen-DVD aangeskaf. Sommige van ons het selfs ‘n paar keer die oefeninge saam met die instrukteur op TV gedoen. Dit is nou voor die DVD misplaas is, en ons in die stilligheid bly is daaroor. Onthou dat oefenprogramme op DVD bedoel is om by die huis te doen, en jy sal ver moet soek om vir die prys van ‘n enkele DVD ‘n beter kardio-oefenprogram te kry.
Die instruksies is gewoonlik baie spesifiek en dit voorkom dat jy nie weet watter oefeninge om te doen nie. As jy besluit om van hierdie tuis-oefenprogramme gebruik te maak, kan ek jou ‘n paar wenke gee om dit suksesvol te doen:

Eerstens, plaas die DVD in die speler en druk “play”. Dit klink na ‘n voor-die-hand-liggende aksie, maar moet met erns aangepak word, want die wasgoed of skottelgoed moet gewas word, die kos moet op die tafel kom. Stop dus die verskonings, staan bietjie vroeër op en doen die oefeninge voor die dag se roetine en verpligtinge kans kry om jou “in te sluk”

Tweedens, moet nie probeer om vanaf Dag Een elke oefening met dieselfde intensiteit as die instrukteur op die skerm te doen nie. Jy oefen by die huis. Niemand kan jou sien nie (behalwe die kinders wat om die deur loer). Bou die intensiteit van die oefeninge stadig maar seker op, een kerf op ‘n keer. Die belangrikste is dat jy wel oefening kry, en as jy moeg word, dan kry jy oefening!

Derdens, wees versigtig vir ‘n “alles of niks” gesindheid. As jy drie of vier keer per week kan oefen, is dit meer as genoeg as jou doel is om fiks en gesond te bly, of om bietjie gewig af te skud. As jou doel egter is om binnekort ‘n marathon te hardloop, wel dan sal jy beslis jou oefenprogram dienooreenkomstig moet aanpas.
Kyk uit vir Oefen by jou huis – Deel 2

Facebook Comments