Sakesusters se pad na sukses

Jy sal verskoon word indien jy Berné en Simoné Theron met skoonheidsmodelle verwar. Met hul hoë wangbene en spierwit glimlagte lyk hulle behoorlik asof hulle pas van die blaaie van ʼn modetydskrif af gestap het. Maar hierdie twee is baie meer as net skoonheid. Hulle is die span agter Theron & Theron Designs, die vervaardigers van die pragtige leerhandsakke en modebykomstighede wat almal aan die praat het.

Berné (24) en Simoné (26) het in Kempton Park aan die Oos-Rand grootgeword en van kleins af gedroom om eendag saam ʼn besigheid te begin. Ná skool het Simoné ekonomie en internasionale handel aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer en ʼn nagraadse diploma in besigheidsbestuur voltooi. Berné het ʼn honneursgraad in Business in Fashion Merchandising bekom.

Dit was egter eers ná hul studies wat die idee vir Theron & Theron Designs gebore is. “Ek het een aand in my bed gelê en dink wat ek die volgende jaar gaan doen en op die idee van handsakke beland,” vertel Berné. “Ek het net daar opgestaan en tot 03:00 die oggend gesit om my eerste handsak te maak uit ʼn stuk sintetiese leer in my kamer. Ek het die volgende dag die handsak vir Simoné gewys en net daar het ons besluit om Theron & Theron te begin.”

Vandat die besigheid in 2015 sy deure geopen het, was dit ʼn warrelwindreis waarin die besigheid indrukwekkend baie gegroei en die twee susters baie lesse geleer het. “Dit het baie harde werk geverg om in so kort tydjie al sukses te kan sien. Ons het al baie foute gemaak en ons leer nog steeds elke dag,” bieg Berné.

Simoné meen dat hul studies hulle beslis in hul besigheid gehelp het, veral om hul mark beter te verstaan. “Omdat Berné spesifiek besigheid in die modebedryf studeer het, het haar kennis ons gehelp om in die behoeftes van ʼn modemark te voorsien en hoe om ons handelsmerk in die modewêreld te vestig,” sê sy.

Van die begin af was kwaliteitbeheer vir ons baie belangrik,” voeg Berné by. “Ons streef daarna om unieke en eksklusiewe produkte te maak en gebruik net die beste leer om seker te maak dat elke produk met die Theron & Theron handelsmerk van top gehalte is.”ffe4cc_199c904768fd4ad9b7b53c0370a241eb

Sy sê dat die vervaardigingsproses aanvanklik ʼn groot uitdaging was omdat nie een van hulle enige opleiding gehad het in die praktiese maak van leerprodukte nie. “Ons moes alles self leer en daar was sommige ontwerpe waarmee ons aan die begin gesukkel het. Aanvanklik het ons geleer hoe om alles self te doen deur aanlyn-video’s te kyk. Sekere patrone vir handsakke en hoe om fyner detail op ʼn handsak te maak het ons op die internet opgespoor en só geleer om dit te maak. Ons het al meer kundig geraak en kon later ons eie patrone ontwerp en maak.”

Volgens Berné was dit ook ʼn uitdaging om die regte mense te kry om vir hulle te werk, omdat hulle aanvanklik op soek was na iemand wat al voorheen met leer gewerk of handsakke gemaak het. Hulle het later besluit om twee werknemers self op te lei om met die vervaardiging van die produkte help.

Hulle verkies egter steeds om persoonlik by elke aspek van die besigheid betrokke te wees. Simoné hanteer die bemarking van die besigheid en Berné is verantwoordelik vir die ontwerp en operasionele bestuur. Hulle stel kort-kort ʼn nuwe reeks op hul webtuiste bekend, maar sit ook graag saam met kliënte om ʼn enig-in-sy-soort produk spesifiek volgens die kliënte se behoeftes te ontwerp.

Die luukse mark

Ons het van die begin af besluit om slegs ʼn aanlynwinkel te hê. Later het eienaars van winkels ons self gekontak en gevra om van ons produkte in hul winkels aan te hou. Daar is tans nog ʼn winkel in Middelburg wat ons produkte aanhou, maar aanlyn-verkope bly steeds ons fokus,” sê Berné.

Simoné meen die feit dat hul produkte van egte leer gemaak word, het hulle outomaties in die luukse mark geplaas en dit was dus nie vir hulle moeilik om in hierdie mark in te kom nie. “Die uitdaging is wel om heeltyd relevant en uniek in die mark te bly,” sê sy.

Mense dink soms dat die Suid-Afrikaanse verbruiker slegs gefokus is op winskopies, maar daar is ʼn addisionele marksegment waar mense eerder op soek is na unieke items van goeie kwaliteit. Ons vind dat hierdie verbruikers graag goeie kwaliteit handgemaakte produkte wil koop en dat iets soos Theron & Theron se customised diens baie gewild is omdat verbruikers daarvan hou om betrokke te wees by die ontwerp van hul produkte,” sê sy.

Sy noem ook dat hulle met enkele bekendes vriende is wat hulle help om hul handelsmerk meer blootstelling te gee. “Soms koop celebs wel van ons produkte op feeste en dan sien ons dit eers na die tyd in die media,” sê Berné. “Dit is dan wonderlik om te sien dat bekendes in ons produkte belangstel.”

Waardevolle lesse

Die susters meen die grootste les wat hulle tot dusver geleer het, is dat kliëntediens een van die belangrikste aspekte van enige besigheid is. “Goeie kliëntediens kan verseker dat kliënte getrou bly aan jou handelsnaam deur oor en oor jou produkte te koop. Dit is ook goed vir word-of-mouth bemarking omdat hulle weer ander kliënte na jou toe sal verwys. Daar gaan soms foute gemaak word, maar dit is belangrik om so gou as moontlik daarop te reageer en dit reg te stel sodat jy die kliënt behou,” sê Berné.

Is dit moeilik om hul persoonlike en professionele verhouding van mekaar te skei? “Dit het soms sy uitdagings maar ons verhouding het baie versterk vandat ons saam begin werk het,” sê Berné. “Ons laat nie toe dat ons persoonlike verhouding ons besigheidsbesluite beïnvloed nie.”

Simoné meen dit is juis omdat hulle mekaar so goed ken dat hulle so goed saam werk. “Ons weet hoe om mekaar te hanteer en vul mekaar mooi aan. Dit is belangrik om kollegas te wees by die werk, maar tog ons vriendskap as susters daarby te voeg,” sê sy. “Daar was al kere wat ons nie saamgestem het oor iets nie, maar ons baklei nooit daaroor nie en hanteer dit altyd op die beste manier moontlik.”

Die beste raad wat hulle aan jong entrepreneurs kan gee, is om vas te byt wanneer dinge onmoontlik lyk. “Om ʼn entrepreneur te wees, verg baie harde werk. Aan die begin gaan jy nie baie hulp kry nie, maar dit is dan wat dit nodig is om alles in te sit om sukses te sien,” sê Berné. “As jy ʼn droom het, glo met jou hele hart daarin. Pak elke geleentheid met ywer aan en moet nooit moed opgee nie.”

Beide Berné en Simoné sê dat hulle met hul persoonlike styl daarvan hou om op hoogte van die nuutste modetendense te wees en modieus aan trek, maar dat jy hulle by die huis in jeans en ʼn T-hemp sal vind. Volgens Simoné is haar gunsteling winkels Cotton On, H&M en Forever New, terwyl Berné ook ʼn groot H&M-aanhanger is.

Natuurlik het hulle persoonlike styl ʼn invloed op hul ontwerpe, maar hulle hou ook ʼn oog op die wêreld se loopplanke en trek die nuutste modetendense deur na hul eie produkte toe.

Hulle beplan om in die toekoms met verskillende materiale te eksperimenteer. “Ons sal die verskillende materiale altyd in kombinasie met leer gebruik om ʼn konstante uniekheid in ons produkte te verseker,” sê Berné. “Ons wil graag oor die volgende vyf jaar Theron & Theron as ʼn groot handelsnaam in die modebedryf vestig, sodat jy Theron & Theron landswyd in al die groot stede en vooraanstaande modewinkels sal sien.”

Facebook Comments