Twee tienermeisies wen sake-kompetisie

Erin Fredericks (14) en Morgan Pelser (15) het oor die naweek met die louere weggestap tydens die nasionale SAGE (Students for the Advancement of Global Entrepreneurship) kompetisie. Hierdie twee tieners het ‘n innoverende sakeplan aangebied voor agt beoordelaars uit verskillende industrieë en agtergronde van regoor die land.

Die SAGE-program, ‘n inisiatief van die California State Universiteit, het drie hoofdoele, verduidelik nasionale CEO, Dr Thabo Pitse. Die eerste doel is om tieners wat aan die program deelneem in besigheid te onderrig. “Hulle volg ‘n streng kurrikulum wat gelykwaardig is aan ‘n NQF vlak-5 kwalifikasie,” sê Pitse. Die program voorsien ook mentors wat die tieners help om hulle besighede aan die gang te kry en uiteindelik verskaf dit ook ‘n netwerk-platform met hulle streeks- en nasionale kompetisies.

“By hierdie geleenthede kry die studente kans om met ander tieners wat ook in besigheid belangstel te netwerk,” sê hy. Hy glo dat hierdie jaar se idees baie meer innoverend en kreatief was as dié in die verlede. “Maar meer as dit, is hierdie leerders almal ware entrepreneurs wat regte probleme oplos.”

Nie vir sissies nie

“Dit was baie stresvol,” vertel Erin Fredericks, ‘n graad-9 leerder aan Eunice Hoërskool oor haar ervaring by die kompetisie. “Maar ek was ook heeltemal uit die veld geslaan om al die kreatiewe sake-idees van die ander spanne te sien.”

Erin het onlangs aangesluit by Morgan Pelser van Morgan’s Candy Floss as sake-vennoot, maar hulle is al vriende sedert kleuterskool.

Morgan, wie die besigheid drie jaar gelede gestig het, soek al vir ‘n jaar lank na ‘n geskikte vennoot. “Almal is altyd baie geïnteresseerd aan die begin, totdat hulle besef hoe hard hulle gaan werk oor naweke en in die aande,” vertel sy. “Erin is baie gedrewe. Sy werk hard en vinnig en is uitstekend met stresbeheer.” Erin voel weer dat sy altyd op Morgan kan staatmaak om deur te druk. “Sy is baie hardwerkend en toegewyd in alles wat sy aanpak.”

Morgan het as 12-jarige die besigheid begin om bietjie ekstra sakgeld te maak. Sy het ‘n masjien en materiaal om die eerste voorraad te maak by ‘n vriend se ma gekoop. Omdat sy nie kapitaal gehad het nie, het sy ‘n ses maande afbetalingsplan beding. “Na die eerste ses maande wat ek alles teruggeploeg het in die besigheid, het ek begin om regtig geld te maak!” vertel sy.

Morgan het altyd alleen gewerk, maar vandat Erin in die prentjie is, is dit baie meer pret. “Dit is wonderlik om met iemand te kan gesels en saam besluite te maak, en ek staan nie meer alleen by markte en uitstallings nie.”

Volgens Morgan was die grootste uitdaging tydens die kompetisie die vraag-en-antwoord-sessies, “want jy moet jou besigheid deeglik ken om nie minderwaardig te voel  as daar moeilike vrae deurkom nie,” sê sy. En ja, hulle het ‘n klein bietjie onvolwaardig gevoel met tye, maar hulle het ook “baie geleer oor besigheid en hoe om wins te maak,” verduidelik Erin.

Vir albei die jong dames was dit heerlik om tieners uit ander streke te ontmoet en hulle het goeie vriende oor die loop van die naweek geword. “Ons sal definitief in kontak bly,” vertel hulle.

Wat die toekoms inhou

Die volgende groot stap is dié twee se deelname aand die SAGE wêreldbeker wat in Augustus in Oekraïene aangebied word. En hulle is mateloos opgewonde daaroor. Morgan was al een keer oorsee met ‘n beurs na China, maar dit sal Erin se eerste oorsese reis wees.

In die toekoms van SAGE sal Dr Pitse graag die kurrikulum wou aanbied in elke skool in Suid-Afrika. “Ek sou ook graag meer mense uit die sake-gemeenskap wou sien betrokke raak sodat ons ‘n kultuur van entrepreneurskap vanaf ‘n baie vroeë ouderdom kan skep,” sê hy. “Ondersteuning uit die korporatiewe sektor en van die regering sal regtig help om die ontwikkeling van hierdie tipe program aan te help en dit ook vir meer kinders toeganklik te maak.”

Facebook Comments