Vyf goeie redes om ’n besigheid te begin

Met ’n sukkelende ekonomie, ’n baie hoë werkloosheidsyfer en stygende lewenskoste, is jy dalk huiwerig om jou eie besigheid te begin. Hier is vyf redes waarom dit ’n baie goeie idee kan wees:

Gemoedsrus vir jou beroepstoekoms

In ’n land waar meer as 25% van Suid-Afrikaners werkloos is, was die vermoë om vir jouself werk te skep nog nooit belangriker as nou nie. Volgens Lullu Krugel, hoofekonoom by KPMG, is nagenoeg 70% van Suid-Afrikaners tans deur klein- of medium ondernemings in diens gestel. “Wêreldwyd ervaar groot maatskappye kostedruk wat aanleiding gee tot ’n situasie waar werknemers nie net na hierdie besighede kan kyk as die enigste oplossing nie,” sê sy.

Jy is jou eie baas

Ons lewe in ’n tyd waar die meeste werkendes die enorme druk van lang werksure, eindelose spertye en ure in stresvolle verkeer ervaar. Daarom is jou eie baas wees een van die grootste belonings vir enige entrepreneur.

’n Ekonomie van blink geleenthede

Moenie afgeskrik wees deur die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse ekonomie tans in die gesig staar nie. Volgens Krugel bied ’n land wat deur noemenswaardige veranderinge gaan ook blink geleenthede. “Toegang tot tegnologie, ’n groeiende middelklas en groeiende tegnologiese verbinding met die res van die wêreld, is alles aspekte wat besigheidsgeleenthede vir Suid-Afrikaners skep.

Jy is een van ’n paar uitgesoektes

Volgens die mees onlangse Globale Entrepreneurskap Monitor Verslag, glo slegs 25% van jong Suid-Afrikaners dat hulle die nodige vaardighede het om ’n besigheid te begin, aansienlik minder as in ander lande. As jy reeds die nodige befondsing in plek het en die nodige vaardighede het om ’n klein besigheid suksesvol op die been te bring, is jy reeds twee stappe voor die meeste ander Suid-Afrikaners wat steeds op hul geldmaak-idee broei.

Jy hoef nie alles op die spel te plaas nie

Voor jy uit jou werk bedank en al jou spaargeld as beginkapitaal gebruik, weet dat ’n nuwe besigheid nie ’n einde aan alle vorme van finansiële sekuriteit hoef te beteken nie. Volgens Jason Heinemeier Hansson, medeskrywer van Rework, is die idee dat entrepreneurs alles moet waag om suksesvol te wees bloot ’n mite. “As jy [’n besigheid kan begin] deur dit self te befonds, kan jy dit al die pad volgens jou eie skedule, op jou eie tyd en onder jou beheer doen.”

Facebook Comments