Waarom jy ‘n besigheidsafrigter moet oorweeg hierdie jaar

Diederik van Niekerk het jare se ondervinding in die internasionale en plaaslike besigheidsarena. Hy het in 2014 as ‘n Besigheidsafrigter by ActionCOACH gekwalifiseer en is ‘n gewilde en baie suksesvolle afrigter in die sentraal-streek.  Sakevrou het gaan gesels oor besigheidsafrigting en wat dit nou eintlik behels. Hieronder antwoord Diederik ons belangrikste vrae.

Waarom het elke sakevrou ‘n besigheidsafrigter nodig?

Afrigting, per definisie, beteken om iemand anders te help om ‘n gewensde resultaat te bereik. Net soos elke top-atleet nooit ophou om van ‘n afrigter gebruik te maak nie, kan geen besigheidseienaar bekostig om sonder ‘n besigheidsafrigter te wees nie. ‘n Besigheidsafrigter lei die besigheidseienaar tot sukses op ‘n bewese, beproefde en gesistematiseerde manier. Die besigheidsafrigter se sukses is direk afhanklik van die besigheidseienaar se sukses. Besigheidsafrigters bied objektiwiteit, ervaring, advies, iemand om verantwoording aan te doen en veel meer.

Watter tipe dienste bied besigheidsafrigters alles aan?

Ons visie is om besigheidseienaars te help om meer winsgewende besighede te bou, om minder stres in hulle dag-tot-dag lewens te ervaar en om beter personeel aan te stel en te groei in ‘n opbouende besigheidskultuur; deur middel van heropleiding. Ons dienste wissel van gratis inligting, advies, boeke, CDs, DVDs en seminare tot top-vlak 1-2-1 afrtigtingsprogramme. Ons het ook groep-afrigtingsprogramme en kan bestaande of nuwe besigheidseienaars help om wêreldklas besigheidsplanne saam te stel. ActionCOACH bied ook nou kursusse in digitale bemarking aan (sosiale media).

Watter dienste bied jy nie aan nie?

Ek bied nie NLP (Neuro-Linguistic Programming), psigoterapie of berading aan nie. Ons dienste rus primêr op suiwer besigheidsadvies en enige gepaardgaande persoonlike groei en opleiding wat die implementering van goeie besigheidsbeginsels ondersteun.

ActionCOACH Business Coaching Internasionaal is sedert 2004 die wêreld se nommer 1 besigheidsafrigtingfirma (volgens Entrepreneur Magazine).

ActionCOACH bied ‘n waarborg wat bepaal dat die afrigter eintlik vir hom/haarself betaal. Sal jy verduidelik?  

Op ons weeklikse 1-2-1 afrigtingsprogram bied ons ‘n waarborg dat die afrigter sy fooi binne 17 weke uit die besigheid se groei sal genereer. Dit beteken dat ons deur middel van die advies en afrigting die besigheidseienaar hulle help om genoeg ekstra wins te maak om die fooi te betaal. Afrigting is nie ‘n kitsoplossing nie en vereis dat die besigheidseienaar getrou moet wees aan die proses, die advies en die verandering. Die resultate en groei is ongelooflik maar dit vra tyd, fokus, harde werk en toewyding.

Jy help baie besighede wat in die moeilikheid is. Dit is natuurlik nie ideaal om dan eers aan te klop vir hulp nie, maar wat is volgens jou die drie dinge wat hoofsaaklik verkeerd gaan en sodoende ‘n onderneming laat vou?

In my ervaring is kontantvloei die grootste sondebok. ‘n Besigheid kan nie floreer as die basiese uitgawes en operasies nie bestuur word nie en dit vra kontant. As die kontantvloei ‘n probleem raak begin eienaars fokus op die probleem en dit neem onmiddelik die fokus weg van areas wat die besigheid laat groei soos bemarking, verkope en sisteme. Hierdie drie areas kos ook geld en vra kontantvloei. Ander areas wat ‘n besigheid kan laat vou is onnodige en hoë uitgawes of anders gestel, swak finansiële bestuur. Eienaars wat nie hul syfers ken en verstaan nie, maak swak besluite en enige besigheid kan dit net vir ‘n beperkte tyd dra. Derdens kan ‘n besigheid vou as eienaars tyd aan die verkeerde areas van die besigheid spandeer, bv te min tyd aan bemarking, verkope, personeel en kliënte.

Is besigheid werklik so moeilik? Baie ongekwalifiseerde mense skep hoogs-suksesvolle ondernemings. Wat is die geheim vir hulle sukses?

Besigheid is in my opinie nie so moeilik nie, maar dit is verseker ook nie maklik nie. Die probleem is dat die meerderheid entrepreneurs wat besighede begin, dink dat hul tegniese kennis (van hul veld) die besigheid sal laat groei. As jy byvoorbeeld ‘n goeie bakker is, is dit genoeg om ‘n besigheid te begin, maar as jy nie leer om soos ‘n besigheidseienaar te dink nie, gaan jy altyd ‘n bakker bly en in die besigheid bly werk as ‘n bakker. Jy kan net soos ‘n besigheidseienaar dink en optree, as jy dit aangeleer en inge-oefen het.

Wat dink jy is JOU persoonlike sterkpunte as ‘n afrigter?

Ek is ‘n goeie kombinasie van analitiese denke, internasionale besigheidservaring en mense-kennis. Ek verstaan kompleksiteite maklik en gekoppel met my ervaring en opleiding, gee dit my wat ek nodig het om probleme met gemak raak te sien en op te los. Ek gee regtig om vir my kliënte en hulle sukses is my passie.

Het jy al gefaal met besigheid? Is jy bereid om vir ons van die ‘val’ te vertel?

Suksesvolle besigheidseienaars weet dat dit noodsaaklik is om te “vaal” in besigheid. Dit gee vir jou geleenthede om te leer en verbeter. Ek glo vas dat mislukking ‘n mensgemaakte konsep is. Enige besigheidseienaar wat leer om sogenaamde mislukking sy “vriend” te maak en vinnig daaruit te leer en dit aan te wend vir positiewe verandering en rigtingverandering, verstaan die pad na sukses.

My eerste besigheid was ‘n koffiewinkel in Northgate Shopping Center in Randburg. Ek het dit saam met ‘n mede-entrepreneur begin en ons moes die besigheid na ‘n jaar verkoop. Alhoewel die omset daar was, het die winste net nie die tyd en “effort” geregverdig nie. Ek sê altyd, dit was my praktiese MBA. Alles wat ek weet van besigheid het in daardie tyd begin. Omset is nie alles nie, dit gaan oor die wins! “Return on Investment (ROI)” is belangrik, maar “Return on Effort (ROE)” is net so belangrik!

Hoe lyk die suksesse van jou top-kliënte?

Nov-U (Jaclyn Engelbrecht) het 100% groei in 12 maande gehad, The Nail House (Rayna Cramer) – 90% groei in drie maande en wen Kleinhandelaar van die Jaar in SA (BEFA2015), SMT Labs (Bernd Theissinger) groei 900% in 15 maande, Legend Construction & Safety Equipment (Theo Ferreira) het 150% groei getoon in 14 maande.

Ek glo vas, en leer my kliënte, dat mens verantwoordelik is vir jou eie resultate

Is jy opgewonde oor die toekoms van besigheid in ons land? Waarom?

Ek glo vas, en leer my kliënte, dat mens verantwoordelik is vir jou eie resultate. Jy kies om jou omstandighede en eksterne faktore te bestuur, of jy kies dat dit jou bestuur en gebruik dit as verskoning. Net een lei tot onomwonde resultate. Daar is baie besighede wat suksesvol is en groei te midde van dit wat in Suid-Afrika se ekonomie aangaan.

Watter drie boeke sou jy aanbeveel wat besigheidseienaars moet lees?

Start with WHY deur Simon Sinek, The E-Myth Revisited deur Michael E Gerber, Secrets of Closing the Sale (updated) deur Zig Ziglar.

Wat motiveer jou om elke dag op te staan en aan te gaan?

My liefde vir en dankbaarheid teenoor God. Die wete en opgewondenheid dat Hy in beheer is en dat wie ek is, en wat ek doen, deel is van Sy groter plan. My liefde vir my vrou en kinders spoor my ook aan.

Wat is die EEN ding wat elke Sakevrou wat vandag hierdie artikel lees DADELIK kan implementeer om haar besigheid te bevorder?

Meet waar jou kliënte vandaan kom. Leer hoe om van jou bemarking ‘n belegging te maak, eerder as ‘n uitgawe.

ActionCOACH Bloemfontein bied ‘n gratis 1.5 uur besigheidsevaluasie aan vir elke besigheidsvrou/leser wat ons kontak en na hierdie artikel verwys.

 

Facebook Comments