WEES bedag op hierdie tekens van Diabetes

Sakevrou gesels met Sr Jossie van der Westhuizen van Life Rosepark Hospitaal se diabetiese kliniek, oor die tekens van Diabetes waarop lesers bedag moet wees.

Dit is belangrik om eerstens te onderskei tussen Tipe 1 en Tipe 2 Diabetes. Tipe 1 Diabetes kom dikwels meer voor by kinders en jongmense. Dit word makliker gediagnoseer, vertel Sr Jossie, omdat die simptomes baie duidelik is: “Kinders is baie dors, urineer meer, sukkel met hul visie en kry makliker infeksies, dus tel dokters dit vinnig op.”

Tipe 2 Diabetes is egter nie so maklik om uit te ken nie. “Terwyl Tipe 1 diabete gewig verloor as simptome, tel Tipe 2 diabete weer maklik gewig op.” Sr Jossie vertel dat moegheid, lae energievlakke en ernstige infeksies ook tekens van Tipe 2 Diabetes kan wees. “Die meeste Tipe 2 Diabete kan vir jare daarmee rondloop.  Weet jy hoeveel mense wat inkom vir operasies het nie geweet dat hulle Tipe 2 diabete is nie?” vertel Sr Jossie.

Tipe 1 is slegs 10% vand die diabeetbevolking wêreldwyd en dit is nie maklik oorerflik nie, volgens Sr Jossie. Tipe 2 beslaan dus 90% van die wêreld se diabete. “Dit is omdat ons deesdae so ‘n swak leefstyl het,” sê Sr Jossie.  “Ons eet verkeerd en oefen te min, dis so eenvoudig soos dit.”

“Daar bestaan nie so iets soos ‘n diabetiese dieet nie.”

Diabetes kan net bevestig word deur ‘n vastende laboratoriumtoets.  Sr Jossie beveel aan dat mense wat vermoed dat hulle dalk Tipe 2 Diabetes kan hê, so vinnig as moontlik ‘n dokter moet sien.  As jy bevestiging gekry het, moet jy sekere aanpassings aan jou leefstyl en dieet maak, beveel sy aan.

“Drink meer water, kry daagliks oefening en eet gesond.” Sr. Jossie glo nie dat daar so iets soos ‘n diabetiese dieet bestaan nie, want almal behoort gesond te eet.  “Eet ‘n verskeidenheid kos, vars groente en vrugte, vermy vette en onnodige sout.” Verder stel sy voor dat jy meer gereeld moet eet – maak seker jy eet drie kleiner maaltye per dag en twee tot drie vrugte tussenin.
“Vermy sappe! Mense glo omdat daar op die houer staan daar is geen bygevoegde suiker nie, dat hulle veilig is, maar dit is ongelooflik hoog in suiker.”

Facebook Comments