Wees sekuriteitsbewus en bly veilig

As jy konstant versigtig en oplettend is, kan jy waarskynlik gevaarlike situasies voorkom en jou familie veilig hou. Besturende Direkteur van Bloemsec, Stephan Meyer, gee raad.

1. Jy is besonder blootgestel wanneer jy jou huis verlaat, of by die huis aankom. Neem net ‘n minuut om rond te kyk. As jy iemand of iets verdag sien, ry eerder verby en bel die sekuriteitsmaatskappy vir begeleiding. Moenie ingaan en self ondersoek instel nie – laat dit eerder oor aan professionele persone.

2. Wanneer jy tuis is, moet jy die deure en sekuriteitshekke gesluit hou. Moenie obsessief weer daaroor nie, maar maak ‘n gewoonte daarvan. Mense aanvaar baie maal dat niks sal gebeur terwyl hulle aan tafel sit vir aandete of voor die televisie ontspan vroegaand nie. Hou die kombuisdeur gesluit.

3. Diewe trek dikwels mooi aan en stel hulle voor as die bure se besoekers. Moet nooit aanneem iemand is betroubaar omdat hy of sy netjies lyk nie.

4. Toets en inspekteer jou alarmstelsels gereeld. Dit sluit die batterye, straal-alarms, kameras en elektriese heining in. As jy al hierdie sekuriteitsmaatreëls in plek gesit het, GEBRUIK dit. Dit is nie net vir veiligheid nie, maar ook vir versekeringsdoeleindes.

5. Oorweeg om ‘n afstandsbeheer noodknoppie in die badkamer weg te steek. Verkieslik in ‘n waterdigte sakkie. Dit gebeur baie dat rowers hulle slagoffers in die badkamer toesluit. Terselfdertyd dien die badkamer gereeld as toegangspunt vir diefstalle. Maak seker dit is ook beveilig.

 

.

Facebook Comments